Skip to main content

Landboubesighede Borg Studente Vir LBK Kongres

22 June 2012

 

Die Landboubesigheidskamer (LBK) het aan tien topstudente van vyf universiteite in Suid-Afrika se landboufakulteite die geleentheid gegun om die LBK Kongres op 2 en 3 Junie 2010 in Somerset-Wes by te woon. Die inisiatief is moontlik gemaak deur die bereidwilligheid van verskeie landboubesighede wat die studente geborg het om die geleentheid vir hul te bewerkstellig.

Lindie Stroebel, LBK se bestuurder vir ekonomiese inligting en finansies, sê: “Die doel van die projek is om ‘n platvorm vir studente te skep om eerstehandse kennis op te doen oor aktuele onderwerpe wat deur deskundiges aangebied word; kennis te maak met sakepersone in top posisies van landboubesighede; en om idees en ervaringe met mekaar te deel. Die sukses van die projek is reeds gesien in die netwerke wat tydens die kongres tussen landboubesighede en studente gevorm is en positiewe terugvoering wat van beide partye ontvang is na afloop van die kongres”.

Die LBK het deelnemende universiteite genooi om hul top senior studente wat in landbou-ekonomie, of ‘n verwante landboubesigheidsrigting studeer, aan te wys om die kongres by te woon. Fakulteitshoofde het studente op meriete geëvalueer en slegs die topstudente is afgevaardig.

Studente wat die kongres bygewoon het, is: Wim Grobbelaar en Jaco Hanekom ( Universiteit van die Vrystaat); Harshil Mitha en Charl (Nando) Baard (Universiteit van Stellenbosch); Michelle Browne, Guy Ducasse en Garreth Sparks (Universiteit KwaZulu Natal); Jacques Schoeman, Charmaine ka Makhaya en Nico Scheltema (Universiteit van Pretoria).

“Dit is goed om te sien dat landboubesighede en die LBK in studende, die deskundiges van die toekoms, belê”, sê Jaco Hanekom (UOVS). “Die LBK Kongres was sonder twyfel een van die beste konferensies wat ek nog bygewoon het. Dit het my die geleentheid gegee om leiers van groot landboubesighede te ontmoet en te leer by die sprekers, wat van die land se mees ervare en gerespekteerde landboukundiges is. Ek is nou, meer as ooit, gemotiveerd om eendag ook my bydrae te maak om ons landbou na nuwe hoogtes te lei”.

Die LBK het die studenteprojek danksy borgskappe van IDC, Kaap Agri, MKB, Mutual & Federal, NWK, Santam Agri, Senwes en Talent Africa aangebied, wat die studente se registrasie, akkommodasie, vervoerkoste, ‘n toelaag en promosiebaadjie geborg het. 


Uitgereik deur Landbou Besigheidskamer

Navrae

Lindie Stroebel, Bestuurder: Ekonomiese intelligensie en Finansies

Telefoon: 012 807 6686

Selfoon: 079 497 1594